Hoop vir 'n nuwe begin ...
Ek is 'n pastorale terapeut in Durbanville, een van die Noordelike voorstede van Kaapstad en is ook 'n predikant by die N G Kerk Bellville-Riebeeck. Ek wil graag mense geestelik en emosioneel help om die lewe wat hulle verkies om te lei, 'n werklikheid te maak. Ek het na my teologiese opleiding verder in die Sielkunde gestudeer en het 'n Meestersgraad in die Sielkunde verwerf. In die vroeë negentigs het ek met die werk van Michael White, een van die skeppers van die narratiewe benadering tot terapie, bekend geraak. Die aannames waarop hierdie benadering berus, het daartoe gelei dat ek hierdie metode gekies het vir my terapeutiese betrokkenheid by mense, aangesien dit juis ruimte laat vir mense se eie vermoëns, keuses, kennis en geloof. Dit het my eie lewe verryk en ek deel dit graag met ander.
Die verstaan van die kulturele konteks waarin mense leef en die invloed daarvan op die wyse waarop hulle hulleself verstaan, het my gehelp om myself in hierdie land en tyd beter te verstaan. Hierdie benadering maak ’n mens sensitief vir magsverhoudings soos dié van ras, klas, posisie, geslag en seksuele voorkeur en ook vir die effek daarvan op mense se lewe. Die narratiewe benadering bevry mense dikwels om nuwe moontlikhede te ontdek en nuwe maniere van wees en leef te vind.
Ek is beskikbaar vir mense wie se lewe en verhoudings beroof word van die kwaliteit waarna hulle verlang. Ek is bereid om saam met mense wat graag hulle verhouding met God, hulleself, hulle lewensmaat en ander wil verbeter, op ’n ontdekkingsreis te gaan ...
Jy is welkom om my vir 'n afspraak te skakel.




